GWK Griekwas se uithaler-slot Hendrik Roodt sal aanstaande seisoen vir die Goue Leeus speel. Dit is die stukkie slegte nuus wat Griekwas se uitvoerende hoof Arni van Rooyen Woensdag gehad het toe hy die kontraktering van 'n sterk kern van die 2012-span bevestig het. Roodt sluit hom aan by Sarel Pretorius wat sy Curriebeker-rugby aanstaande jaar by die Vrystaat Cheetahs sal speel, en by Riaan Viljoen wat na Durban verhuis.
"Ons kan net eenvoudig nie teen die groter unies meeding as hulle eers op 'n speler besluit het nie," het Van Rooyen oor die vertrek van Roodt gesê. "Die manne speel goeie rugby vir Griekwas, en dan word hulle deur die groter unies raakgesien en aanbiedinge gemaak. Dit maak dit moeilik om spelers te behou."
Van Griekwas se aanwinste vir 2012 is die Bolandse stut Janro van Niekerk (Boland) en die flank-leenspeler van die Blou Bulle Marnus Schoeman; skrumskakels Enrico Acker (Vrystaat) en Jacques Coetzee (Pumas); en senters Walter Venter (Luiperds) en PJ Vermeulen (Boland).
Die Leeus se leen-vleuel Dusty Noble en Boland-heelagter Willie le Roux het ook reeds geteken, maar daar is nog nie duidelikheid oor die posisie van losskakel Earl Rose nie.
"Ons is nog nie klaar nie, en onderhandel met nog 'n paar spelers," het Van Rooyen bevestig. Ondermeer sal daar nog voorrymanne gekontrakteer moet word, terwyl 'n spesialis-losskakel – Rose of iemand anders – ook nadergetrek sal moet word.
Daar is ook nog nie sekerheid of Griekwas se Mokuena sal kan aanbly nie. Hy is nog 'n leenspeler van die Goue Leeus af.
** Inmiddels is daar goeie nuus oor die man wat Griekwas vroeer die seisoen in die Vodacombeker-reeks aangevoer het. Flank Wesley Wilkins oefen reeds weer voluit en sal gewis die lostrio-posisie vir die res van die seisoen versterk.
Griekwas se gekontrakteerde spelers (dusver) vir 2012 is:
Voorspelers: Steph Roberts, Janro van Niekerk, Lourens Adriaanse, Ryno Barnes, Matt Dobson, Simon Westraadt, Frikkie Spies, Martin Muller, Jaco Nepgen, Marnus Schoeman, Wesley Wilkins, Burger Schoeman, Leon Karemaker, Justin Downey.
Agterspelers: Henrico Acker, Jacques Coetzee, Marnus Hugo, Rocco Jansen, Matt Rosslee, Walter Venter, PJ Vermeulen, Wilmaure Louw, Jean Stemmet, Richard Lawson, Dusty Noble, Willie le Roux, Rudi Vogt.